Ons Leerstellige Ankers

GOD: Ons glo dat daar slegs een ware en lewende God is. Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid in drie persone, Vader, Seun en Heilige Gees; dat hulle gelyk in goddelike volmaaktheid is, maar uniek in die uitvoering van hulle werk in die skepping, voorsiening en verlossing is.  (Genesis 1:1,26; Joh.1:1,3; Mat.28:19; Joh.4:24; Rom.1:19,20; Ef.4:5,6).

GOD DIE VADER: Ons glo in God die Vader, grensloos in Sy almag, wysheid, liefde en volmaak heilig. Ons glo dat God onfeilbaar alles weet wat was, is en wat kom en dat Hy hom in Sy groot barmhartigheid, genade en liefde bemoei met die mens wat Hy na Sy beeld gemaak het.  Hy hoor en verhoor ons gebede en verlos elkeen wat in sonde belydenis na Hom toe kom deur Jesus Christus. (Luk.10:21,22; Mat.23:9; Joh.3:16; 6:27; Rom.1:7; I Tim.1:1,2; 2:5,6; I Pet.1:3; Op.1:6).

GOD DIE SEUN: Ons glo in Jesus Christus, God se enig gebore Seun, volkome God en volkome mens.  Ons glo in Sy maagdelike geboorte, sondelose lewe, wonderwerke en lering.  Ons glo in Sy plaasvervangende, versoenende dood, liggaamlike opstanding, Sy Hemelvaart en Sy voortdurende intrede vir Sy Kerk as ons Hoof priester en Regspraak by die Vader en Sy persoonlike en sigbare Wederkoms op die wolke van die hemel.  (Mat.1:18-25; Luk.1:26-38; Joh.1:1; 20:28; Rom.9:5; 8:46; 2 Kor.5:21; I Pet.2:21-23; Joh.20:30, 31; Mat.20:28; Ef.1:4; Hand.1:11; Rom.5:6-8; 6:9,10; Heb.7:25; Heb.9:28; I Tim.3:16).

GOD DIE HEILIGE GEES: Ons glo in die Heilige Gees wat van die Vader en die Seun gestuur is om die mens te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel; om ons te red deur die weergeboorte, te heilig en te bekragtig vir ons dienswerk in die Gemeente.  Ons glo dat die Heilige Gees in elkeen woon wat in Jesus Christus glo, dat Hy ons ewige Helper, Leraar en Leidsman is tot Christus gelykvormigheid.  (Joh.14:16,17,26; 15:26,27; Joh.16:9-14; Rom.8:9; I Kor.3:16; 6:19; Gal.5:22-26).

DIE BYBEL: Ons glo dat die Bybel, Ou en Nuwe Testament, die Woord van God is, volledige en volkome geïnspireerd en foutloos in sy oorspronklike neerslag.  Ons glo dat die Bybel geskryf is onder inspirasie van die Heilige gees en dat dit die finale gesag het in alle sake rakende ons geloof en lewe.  (2 Tim. 3:16; 2 Pet.1:20,21; Mark.13:31; Joh.8:31,32; Joh.20:31; Hand.20:32).

WEERGEBOORTE: Ons glo dat die mens deur God na Sy beeld en gelykenis geskep is; dat die mens gesondig het en daardeur die fisiese, geestelike en ewige dood en skeiding tussen God en mens gebring het.  As gevolg daarvan word elke mens, sedert Adam en Eva, van nature gebore as sondaar.   Die mens is dus uit eie keuse en in wese ’n sondaar en staan onder die oordeel van God.  Ons glo dat elkeen wat hom / haar bekeer van hulle sonde en glo en vertrou in die voltooide werk van Christus Jesus aan die kruis, deur die Heilige Gees wedergebore is, nuwe skepsels is en vry van die wraak en oordeel van God kan leef met die vaste hoop op die ewige lewe.  Van begin tot einde is die weergeboorte slegs die werk van God se genade.  (Gen. 1:26; 5:2; Gen. 3; Gen. 2:17; 3:19; Pred. 2:11; Joh. 3:14; 5:24; Joh. 5:30; 7:13; 8:12; 10:26; Rom. 9:22; 2 Tes. 1:9; Op. 19:3,20; 20:10;14,15; 21:18; Psalm 51:7; Jer. 17:9; Jak. 1:14; Rom. 3:19; 5:19; Spr. 28:13; I Joh. 1:9; Joh. 3:16; Joh. 1:13; 2 Kor.5:17; Rom.8:1).

DIE KERK: Ons glo in die algemene Christelike Kerk, ’n lewende en geestelike liggaam waarvan Christus die Hoof is en alle weergebore persone lidmate is.  Ons glo in die plaaslike gemeente wat bestaan uit gelowiges in Christus Jesus, gedoop is op grond van sy/haar belydenis van geloof en wat assosieer met die aanbidding, werk en gemeenskap van die gelowiges in daardie gemeente.  Ons glo dat God op elke individuele lidmaat die primêre taak gelê het om die evangelie van Jesus Christus met almal te deel.  (Ef. 2:19-22; Hand. 1:8; Ef. 5:19-21; Hand. 2:42; Heb.10:23-25).

ONS CHRISTELIKE GEDRAG: Ons glo dat die Christen moet leef vir die eer van God en die welvaart van sy medemens; dat sy optrede vlekkeloos in die wêreld behoort te wees; dat hy ’n getroue rentmeester moet wees van sy besittings en dat hy ter wille van homself en ander sal strewe na Christus gelykvormigheid.  Elke ware gelowige in Christus Jesus word geroep tot ’n heilige lewe, persoonlike toewyding aan die Here Jesus en diens aan die Kerk van Christus.  (I Kor.10:31; Rom. 12:1-3; Heb. 12:1-2; Joh. 14:15,23-24; I Joh. 2:3-6; 2 Kor. 9:6-9; I Kor.4:2; Kol. 1:9-10).

DIE ORDINANSIES: Ons glo dat die Here Jesus twee ordinansies aan sy Kerk nagelaat het, naamlik die doop en die Nagmaal.  Ons glo dat die Christelike en Bybelse doop deur onderdompeling in water in die naam van die drie-enige God, slegs aan gelowiges in Christus Jesus bedien moet word.  Ons glo dat die Nagmaal deur Jesus Christus ingestel is as ’n herdenking van Sy dood, begrafnis en opstanding en ’n verkondiging van Sy wederkoms is.  Ons glo dat die Nagmaal aan alle gelowiges in Jesus Christus bedien mag word, ongeag hulle Kerkverband.  Ons glo dat beide hierdie ordinansies uiterlike getuienisse is van die innerlike werk van weergeboorte in ons lewens en dat dit daarom ook dui op ons geestelike eenheid met Christus en die Gemeente.  Ons glo ook. Dat beide hierdie ordinansies aan gelowiges bedien moet word tot met die wederkoms van Christus Jesus ons Here. (Mat.28:18-20; Rom.6:3-5; Mat.26:26-30; 1 Kor.11:23-26).

GODSDIENSVRYHEID: Ons glo dat in elke mens met God in ’n direkte verhouding kan staan en self verantwoordelik is teenoor God m.b.t. sy geloof; dat elke plaaslike Gemeente onafhanklik en outonoom is sonder enige inmenging van Kerklike hiërargie en politieke inmenging; dat die Kerk en Staat daarom geskei moet wees en elkeen sy eie rol en funksie moet vervul in die samelewing. (1 Tim.2:5; Rom.14:7-9, 12).

KERKLIKE DEELNAME: Ons glo dat die plaaslike Gemeente ten beste die bevordering van die evangelie van Jesus Christus kan dien, hetsy deur formele of informele deelname met ander eendersdenkende gemeentes.  (Hand.15:36,41; 16:5; 1 Kor.16:1; Gal.1:1-3; Op.1:4,10,11).

DIE WEDERKOMS VAN JESUS CHRISTUS: Ons glo in die persoonlike en sigbare terugkeer van Jesus Christus na die aarde vir die vestiging van Sy ewige Koninkryk.  Ons glo in die opstanding van beide die gelowiges en ongelowiges, die finale oordeel, die ewige vreugde van die regverdiges en die ewige lyding van die onregverdiges.  (Mat.16:27; Mark.14:62; Joh.14:3; Hand.1:11; Fil. 3:20; 1 Tes.4:15; 2 Tim.4:1; Titus 2:13; 1 Kor.4:5; 1 Kor.15; 2 Tes.1:7-10; Op. 20:4-6,11-15).

DIE GESIN EN DIE HUWELIK: Ons glo dat die gesin God se bousteen is vir ’n gesonde samelewing.  Die gesin bestaan uit ’n man en vrou met kinders gebore uit die huwelik of deur aanneming. Ons glo die huwelik is deur God ingestel tussen ’n natuurlik gebore man en ’n natuurlik gebore vrou wat deur gesamentlike besluitneming in die huwelik verbind word.  (Genesis 2:23-25; Ephesians 5:22-33, Rom 1:26-27).

DIE GEMEENTELIKE BEGINSEL: Ons glo dat elke lidmaat van die Gemeente die onvervreembare voorreg en verantwoordelikheid het om sy/haar gawes en talente in die bediening van die gemeente uit te leef en te beoefen.  Ons glo dat die Here Jesus Christus twee ampte aan Sy Gemeente nagelaat het om die Gemeente te lei, leer en versorg, naamlik ouderlinge en diakens.  Dit is die taak van die Ouderlinge (Opsieners, leraars) om die Gemeente in ’n gees van diensbaarheid te lei, toe te rus vir hulle dienswerk en geestelike versorging te bied.  Die taak van die Diakens is om toe te sien dat die praktiese bedieninge in en rondom die Gemeente glad verloop.  Die Gemeentelike beginsel erken verder die voorreg van elke lidmaat om deel te neem in die aanwysing van leiers (ouderlinge en diakens en die beroep van ’n leraar) en dat die gekonstitueerde Gemeentevergadering onderworpe is aan die direkte Heerskap van Jesus Christus en die Skrif as finale gesag waarop enige iemand hom/haar moet beroep in enige sake rakende die bediening van die Gemeente.

DIE PRIESTERSKAP VAN DIE GELOWIGE: Ons glo dat elke Christen direkte toegang to God die Vader het deur Jesus Christus ons Hoof priester en dat ons saam met Hom deel in Sy werk van versoening.  Dit sluit in voorbidding, aanbidding in die eredienste, getroue bedienings betrokkenheid en om getuies van Jesus Christus te wees tot aan die voleinding van die wêreld.