Ons Geloofsidentiteit

Die Gemeente glo onvoorwaardelik in die Bybel – Ou en Nuwe Testament – as die geïnspireerde, onfeilbare en foutlose Woord van God. Slegs die Woord van God en nie die konstitusie nie, sal die grondslag en gesag wees waarop die Gemeente haar sal beroep in sake rakende haar roeping, doel, strukture en die funksionering van die Gemeente in die wêreld. Die volgende vyf on-onderhandelbare geloof stellings sal as raamwerk dien om ons konstitusie te beskerm:

ONS GLO IN ’N BYBELSE SIENING VAN GOD. God is absoluut soewerein in alle dinge. Hy het die Kerk in die lewe geroep en gevestig tot Sy eer alleen. God stuur en beheer alle dinge in Sy vooraf bestemde raad, tot lof van Sy heerlikheid. (Psalm 22:28; Psalm 33:6-9; Psalm 115:3; Daniël 4:34-35; Jesaja 40:17-18; Romeine 9:13-29;Openbaring 4:11).

ONS GLO IN ’N BYBELSE SIENING VAN DIE SKRIF. As die geïnspireerde, onfeilbare en foutlose Woord van God, wat in sy oorspronklike neerslag oor eeue aan ons oorhandig is, is die Bybel – Ou en Nuwe Testament – die finale gesag in alle sake rakende ons geloof en lewe. (Psalm 19:8-12; 2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:19-21)

ONS GLO IN BYBELSE PREDIKING VAN DIE “GESONDE LEER.” Ons siening van God en die Skrif dring ons daartoe om in ons prediking die gesonde leer van die Skrif te preek, te leer en toe te pas. Suiwere leer bepaal altyd ons optrede. (2 Timoteus 4:1-5)

ONS GLO IN PERSOONLIKE BYBELSE HEILIGHEID. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Ons is eerstens aanspreeklik teenoor God en ook aan mekaar t.o.v. wat ons in hierdie wêreld doen en hoe ons leef. Ons is duur gekoop met die bloed van Jesus Christus en daarom behoort ons nie aan onsself nie, maar aan Hom. (8:15-17; 1 Kor. 6:18-20; 2 Kor. 7:1; 1 Pet. 1:18; Ef. 5:3-12)

ONS GLO IN BYBELSE ORDELIKE, GEESTELIKE LEIERSKAP. God is ’n God van orde in alle fasette van ons leefwêreld en die Kerk van Christus is geen uitsondering nie. Die Bybel gee vir ons duidelike riglyne oor die leierskap en hulle funksies binne die Gemeente. Christus is die Hoof van die Gemeente en daarom het Hy leiers aan sy Gemeente voorsien in die vorm van herder, leraars (ouderlinge) en diakens om die Gemeente na Christus gelykvormigheid te lei en geestelik te bedien. (Kol.1:18; 1 Pet. 5:1-4 ). Die ouderlinge (herders, leraars) se verhewe siening van God en Sy Woord, hulle toewyding tot verklarende prediking, dring hulle daartoe om deur ’n heilige lewenswandel die Gemeente te lei tot geestelike volwassenheid in Christus. Die Bybel leer ons dat die ouderlinge aanspreeklik is teenoor God vir die geestelike welvaart van Sy Gemeente. Daarom neem die ouderlinge nie lukrake besluite sonder gesonde oorleg met die Gemeente nie. Die finale gesag in besluitneming berus by die Gemeente as hoogste gesag onder die Heerskap van Christus Jesus. (Hand.15:6-21 Hebr.13:17; 1 Tim. 5:17).